26 Die man het na Hetiete-land gegaan en hy het daar ’n stad gebou. Hy het die stad ook Lus genoem, dit is vandag nog die naam van die stad.
27 Die Manasse-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo en in die klein dorpies rondom hulle nie. Die Kanaäniete wou nie weggaan uit die stede nie.
28 Toe die Israeliete ’n sterk volk geword het, het hulle die Kanaäniete swaar laat werk, maar hulle het nooit die Kanaäniete heeltemal weggejaag nie.
29 Die Efraim-stam het ook nie die Kanaäniete oorwin en weggejaag wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om in Geser te woon tussen die mense van Efraim.
30 Die Sebulon-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat in Kitron en Nahalal gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om tussen die Sebulon-mense te woon, maar die Sebulon-mense het die Kanaäniete swaar laat werk.
31 Die Aser-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob nie.
32 Die Aser-mense het gewoon tussen die Kanaäniete in die land, want hulle het nie die Kanaäniete weggejaag nie.