15 Manoag sê toe vir die Engel van die Here: “Jy moet asseblief by ons bly, net ’n kort tydjie. Ons wil vir jou ’n bokkie gereedmaak om te eet.”
16 Die Engel van die Here het vir Manoag gesê: “Ek sal ’n kort tydjie bly as jy dit wil hê, maar Ek sal nie iets eet nie. Maar as jy vir die Here ’n brand-offer wil gereedmaak, dan kan jy dit doen.”Dit was die Engel van die Here, maar Manoag het dit nie geweet nie.
17 Manoag het vir die Engel van die Here gevra: “Wat is jou Naam, want wanneer die dinge gebeur wat jy gesê het, dan wil ons jou eer.”
18 Toe sê die Engel van die Here vir hom: “Hoekom vra jy wat my Naam is? Jy sal nie my Naam verstaan nie.”
19 Manoag het die bokkie en ’n koring-offer geneem en hy het dit op die rots neergesit. Dit was ’n offer vir die Here. En toe het die Here ’n wonderwerk laat gebeur. Manoag en sy vrou het dit gesien.
20 Die vlam het van die altaar opgegaan in die lug, en die Engel van die Here het ook in die vlam opgegaan. Manoag en sy vrou het dit gesien, en hulle het laag gebuig, hulle gesigte was teen die grond.
21 Die Engel van die Here het nie weer na Manoag en sy vrou toe gekom nie. Maar Manoag het toe geweet dit was die Engel van die Here.