16 Maar Rut het vir Naomi gesê: “Jy moenie aanhou sê dat ek jou moet los en moet teruggaan nie, want waar jy gaan, wil ek ook gaan, en waar jy gaan slaap, wil ek ook gaan slaap. Jou volk is ook my volk, en jou God is ook my God.
17 Waar jy sterf, wil ek ook sterf, en daar moet die mense my begrawe. Die Here is my getuie. Net die dood sal ons twee skei van mekaar.”
18 Naomi het toe geweet dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan, en sy het nie weer met Rut daaroor gepraat nie.
19 Naomi en Rut het verder geloop totdat hulle in Betlehem gekom het. Almal in die stad was opgewonde. Die vroue het gevra: “Is dit regtig Naomi?”
20 Maar Naomi het vir die mense gesê: “Julle moet my nie Naomi noem nie, julle moet my nou ‘Bitter’ noem, want die Almagtige God het my lewe vir my baie bitter gemaak.
21 Ek het hier weggegaan met baie, maar die Here het my met niks laat terugkom. Die Here, die Almagtige God, het my laat swaarkry, Hy het dit sleg laat gaan met my.”
22 So het Naomi teruggekom uit die land Moab, en Rut, haar Moabitiese skoondogter, het saam met haar gekom. Hulle het in Betlehem gekom toe die mense begin het om die gars af te sny.