Sagaria 14:13-15-21 ABA

13-15 Dieselfde sal gebeur met die perde en muile en kamele en donkies, met al die diere wat in die vyande se kamp is. Die Here sal die vyande daardie dag baie deurmekaar maak, hulle sal mekaar gryp en doodmaak. Ook die mense van Juda sal oorlog maak teen Jerusalem. Maar die mense van Jerusalem sal die goed van al die ander volke rondom hulle bymekaarmaak en vat: baie goud en silwer en klere.

16 Die mense van die volke wat oorlog gemaak het teen Jerusalem, sal nie almal dood wees nie. Al die mense wat nog lewe, sal elke jaar na Jerusalem kom en hulle sal buig voor die Koning, die Here wat oor alles regeer. Hulle sal ook die Hutte-fees vier.

17 As die mense uit al die lande op die aarde nie na Jerusalem kom om te buig voor die Koning nie, dan sal hulle lande nie reën kry nie. Hy is die Here wat oor alles regeer.

18 As die mense van Egipte nie kom nie, dan sal die Here hulle straf soos Hy al die ander volke straf wat nie gekom het om die Hutte-fees te vier nie.

19 So sal die Here die mense van Egipte en al die ander volke straf as hulle nie kom om die Hutte-fees te vier nie. Hulle sal nie reën kry nie.

20 Daardie dag sal die mense skryf op die klokkies aan die perde se tuie. Hulle sal skryf: “Gewy aan die Here.” Die potte in die tempel sal gewy wees, soos die bakke by die altaar.

21 Al die potte in Jerusalem sal gewy wees aan die Here wat oor alles regeer. Almal wat wil offer, sal kom en hulle sal party van die potte vat. Hulle sal die vleis vir die ete-offers in die potte kook. Daar sal nie weer iemand in die tempel wees wat goed koop en verkoop nie.