8 Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges.
9 Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn.
10 Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só:
11 die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie - al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom - leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie.
12 Liewe kinders, ek herinner julle weer daaraan: vir God bestaan julle sondes eenvoudig nie meer nie. Daarvoor het Jesus gesorg.
13 Pa’s, julle ken Hom wat alles begin het goed. Daarom is hierdie brief vir julle. Die jongmense kan ook lees wat ek skryf, want hulle het die Bose behoorlik op die neus laat kyk.
14 Ek het vir julle my hand op papier gesit, kinders, omdat julle die Vader persoonlik ken; en pa’s, omdat julle Hom ken wat die oorsprong van alles is. Jongmense, ek het vir julle geskryf omdat julle innerlik so sterk is. Julle seëvier altyd in die stryd teen Satan. Boonop straal God se boodskap uit alles wat julle doen.