3 Daarteenoor het enigiemand wat Jesus nie erken vir wie Hy is nie, nie die Gees wat van God af kom nie. Die gees van die antichris is met hom besig. Julle het mos gehoor dat hierdie gees aan die kom is. Wel, dit is nou hier!
4 My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan!
5 Hierdie vals profete behoort aan hierdie wêreld. Dit is waarom alles wat hulle sê so wêrelds is en die wêreld so graag na hulle luister.
6 Ons is kinders van God. Wie ook ’n kind van God is, luister na ons. Wie egter nie ’n kind van God is nie, luister nie na ons nie. So kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is.
7 My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed.
8 God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie.
9 Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee.