20 Gaan roep maar die mense wat sê hulle weet baie. Gaan kry die professore. En waar is die mense met die gladde tong? Het God nie gewys dat al hierdie slimmighede wat mense kwytraak eintlik maar baie dom is wanneer dit kom by dit wat regtig belangrik is nie?
21 Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou.
22 Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word.
23 Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is.
24-25 Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie.
26 My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan.
27 God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer. Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak.