11 God het hulle ’n voorbeeld vir ons gemaak. Ons kan dus nie sê dat ons nie gewaarsku is nie. Dit staan lewensgroot in die Skrif geskryf vir ons wat in die tyd leef net voor die Here weer kom. In dié tyd sal dit nie met die Christene net goed gaan nie.
12 Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie.
13 Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.
14 Daarom, my liewe broers en susters, moet julle niks te doen hê met alles wat mense in die plek van die ware God aanbid nie.
15 Julle is mos slim genoeg om self te besluit of wat ek sê waar is of nie.
16 By die maaltyd van die Here sê ons mos altyd vir die Here baie dankie vir die beker. Is die beker waarvoor ons so dankie sê, nie juis vir ons ’n bewys dat die bloed van Jesus ook vir ons bedoel is nie? En as ons die brood eet, is dit nie ’n bewys van wat Jesus se liggaam alles vir ons beteken nie? Ons elkeen kry ’n klein stukkie van die een groot stuk brood.
17 So deel baie mense een brood. Daarom vorm ons as gemeentelede ’n hegte eenheid as ons saam die nagmaalsbrood eet, al is ons baie verskillende mense.