1 Korintiërs 14:12-18 DB

12 Dis presies wat in die gemeente gebeur as iemand in ’n spesiale taal praat wat niemand anders verstaan nie. Ek weet die spesiale geestelike geskenke wat God vir julle gee, is vir julle belangrik. Wees daarom opgewonde oor daardie geestelike geskenke wat vir ander ook iets beteken en die gemeente sterker kan maak.

13 Iemand wat dan so ’n spesiale taal van die Gees gekry het om te praat, moet God vra om hom ook te help om te verstaan wat hy besig is om te sê. Ek het al baie ervaring daarvan.

14 As ek in so ’n spesiale taal in gebed met God praat, is my gees nou betrokke, maar my verstand is afgeskakel - ek weet nie wat om te dink oor dit wat ek besig is om te sê nie, want ek verstaan nie wat gesê word nie.

15 Hoe moet dit dan nou presies wees? Eintlik is die ideaal dat jy as mens heeltemal betrokke is, gees en verstand saam. As jy bid, moet jou gees bid, maar jy moet ook verstaan wat jy bid. As jy God loof deur te sing, moet dit uit jou gees borrel, maar so dat jy ook presies weet wat jy besig is om te sing.

16 Dit is belangrik. Sê nou maar jy is daar in jou gees besig om allerhande mooi dinge van God te sê, hoe kan iemand wat niks verstaan wat jy sê nie saam met jou bid? Hoe kan hy die Here vra om dit wat jy besig is om te sê waar te laat word, as hy nie eens weet wat jy sê nie?

17 Jy kan miskien voel dat wat jy in die gemeente doen, goed is en dat die Here ook daarvan hou, maar die mense wat saam met jou in die kerk sit, het niks daarvan nie. Vir hulle beteken dit net mooi niks.

18 Ek sê vir God dankie dat ek meer in spesiale tale met Hom praat as julle almal saam. Ek is daarom nie teen die praat van spesiale tale nie.