1 Korintiërs 14:24-30 DB

24 Maar sê nou dieselfde ongelowige persoon wat niks van die Christendom verstaan nie, kom in terwyl julle op ’n verstaanbare manier met mekaar oor die boodskap en wil van God praat, wat sal dan gebeur? Sal hy nie dalk luister en diep getref word nie? Sal hy nie besef dat hy op die verkeerde pad is en dat God so ontevrede met hom is dat God hom gaan straf nie?

25 Dit sal vir hom wees of alles hier diep binne-in hom wat hy voorheen nie verstaan of selfs van geweet het nie, skielik opborrel en vir hom glashelder word. Hy sal net daar op sy knieë neersak en God se Naam grootmaak. Hy sal openlik sê: “God is regtig hier by en tussen julle.”

26 Wat moet dan nou gebeur as julle bymekaarkom? Wel, dit kan gebeur dat elkeen iets het om te doen. Die een wil ’n lied vir God sing, die ander een wil vertel wat hy van Jesus geleer het, ’n ander een het weer iets wat die Here hom spesiaal gewys het. Daar is miskien ook iemand wat in ’n spesiale taal wil praat of wat wil verduidelik wat met die spesiale taal gesê word. Onthou net, elke dingetjie wat gedoen word as die gemeente so saam is, moet krag in die gemeente inblaas. Die hele gemeente moet daardeur sterker gemaak word.

27 Met ander woorde, as iemand in ’n spesiale taal praat, moet dit nie oordryf word nie. Net twee, of op die meeste drie, moet ’n kans kry, en nie almal gelyk nie. Elke keer moet daar iemand wees wat aan die ander kan verduidelik wat die persoon besig is om te sê.

28 As daar nie iemand in die gemeente is wat die spesiale taal verstaan en kan verduidelik wat gesê word nie, moet die een stilbly wat in die spesiale taal wil praat. Hy moet dit maar tussen God en hom hou waar hy alleen is.

29 Twee of drie mense aan wie God sy boodskap gegee het, moet aan die gemeente vertel wat God sê. Die res van die gemeente moet goed luister en versigtig opweeg wat gesê word.

30 As die Here egter ’n spesiale boodskap vir iemand gee wat in die gemeente sit en luister, moet die een wat aan die praat is, eers stilbly.