1 Korintiërs 6:1-7 DB

1 Vat julle mekaar regtig hof toe? Ek kan dit byna nie glo nie. Sê nou een van julle voel ’n mede-Christen het hom verkul en dat dit reggestel moet word. Hoekom hardloop julle hof toe waar ’n klomp ongelowiges wat niks van God en sy wil af weet nie, sal moet besluit wie van julle twee reg is? Het dit nie baie meer sin om na mede-Christene toe te gaan en saam met hulle die saak op te los nie?

2 Het julle dan vergeet dat die mense van hierdie wêreld juis eendag voor God se kinders sal moet verskyn om die finale oordeel oor hulle te hoor? As julle dan eendag regters oor al die mense van hierdie wêreld gaan wees, dink julle nie dat julle mans genoeg behoort te wees om klein verskilletjies onder mekaar op te los nie? Ek wil dit nog sterker stel.

3 Ons gaan selfs eendag die hemelse wesens oordeel. As dit so is, behoort ons regtig darem ook in staat te wees om vir die alledaagse probleme wat nou hier onder ons opduik, ’n goeie oplossing te vind.

4 As julle dan met mekaar vassit, waarom hardloop julle na regters toe wat nie eens in die gemeente is nie? Hoe is dit moontlik om so ’n persoon te vertrou met wat reg of verkeerd is?

5 Ek sê dit om julle ’n bietjie wakker te skud sodat julle kan sien wat julle besig is om te doen. Wil julle sowaar vir my sê dat daar nie ’n enkele persoon onder julle is wat verstandig genoeg is om julle te help om julle probleme onder mekaar op te los nie?

6 Kyk net wat vang julle nou aan. Een Christen sleep ’n ander Christen voor die hof en dit nog voor mense wat glad nie in God glo nie.

7 Wat sê julle nou eintlik met hierdie hofsake wat julle so teen mekaar voer? Julle sê eintlik dat julle ’n klomp verloorders is. Nie een van julle kan ’n wenner in so ’n saak wees nie. Hoekom is julle nie maar bereid om die minste te wees of selfs maar aan die kortste ent te trek ter wille van die groter saak van julle Christenskap nie?