11 As ek nou geestelik hard werk daar onder julle, is dit seker nie te veel gevra om darem so iets tasbaars van julle te kry om aan die lewe te bly nie.
12 As julle voel dat julle mense wat geestelik onder julle werk so wil help, behoort julle ons nie eintlik voor in die ry te laat staan nie?Maar ons het liewer stilgebly as om vir julle te vra om ons te help om die pot aan die kook te hou. Ons wou nie hê dat enigiets wat ons doen mense moes afsit om na die wonderlike boodskap oor Christus te luister nie.
13 Julle weet mos self dat die mense wat in die tempels werk genoeg kry om van te lewe by die mense wie se tempel dit is. Die Here het ook duidelik vir ons as Christene gesê wat ons moet doen.
14 As ons vir mense van Jesus vertel, moet gelowiges ook sorg dat ons genoeg het om van te lewe.
15 Ek het nooit by julle aangeklop om hulp nie, al kon ek. Nou moet julle ook nie dink dat ek dit nou met hierdie brief doen nie. Nee, ek sou liewer van honger doodgaan as om te sê dat ek vir julle van Jesus vertel het sodat ek geld of so iets by julle kon kry. Dat ek nie vir mense van Jesus vertel om geld in die hande te kry nie, is vir my baie belangrik. Dit maak my nie nou skielik baie goed nie.
16 Ek kan nie anders as om mense van Jesus te vertel nie. Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag. Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit nie doen nie.
17 As ek self gekies het om ’n prediker te word, sou ek miskien kon sê dat mense my moes betaal. Maar nou is dit nie ek wat dit gekies het nie. God het vir my gesê ek moet dit doen.