14 As ons vir mense van Jesus vertel, moet gelowiges ook sorg dat ons genoeg het om van te lewe.
15 Ek het nooit by julle aangeklop om hulp nie, al kon ek. Nou moet julle ook nie dink dat ek dit nou met hierdie brief doen nie. Nee, ek sou liewer van honger doodgaan as om te sê dat ek vir julle van Jesus vertel het sodat ek geld of so iets by julle kon kry. Dat ek nie vir mense van Jesus vertel om geld in die hande te kry nie, is vir my baie belangrik. Dit maak my nie nou skielik baie goed nie.
16 Ek kan nie anders as om mense van Jesus te vertel nie. Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag. Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit nie doen nie.
17 As ek self gekies het om ’n prediker te word, sou ek miskien kon sê dat mense my moes betaal. Maar nou is dit nie ek wat dit gekies het nie. God het vir my gesê ek moet dit doen.
18 Maar wat kry ek dan nou vir al my moeite? Dit is vir my meer as genoeg om maar net die boodskap oor Jesus aan mense te vertel sonder om geld daarvoor te vra, al het ek die volste reg om te eis dat hulle vir my ook moet sorg.
19 Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ’n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei.
20 As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word. As hulle stiptelik volgens hulle wet leef, leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie. As ek dit doen, sal ek ’n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo.