1 Petrus, wat spesiaal deur Jesus Christus gestuur is, het hierdie brief geskryf.Ek skryf aan die mense wat God vir Hom gekies het en wie se lewe nie net om die dinge van hierdie wêreld draai nie. Ek praat van die gelowiges wat verjaag is en nou versprei in die hele Turkye bly.
2 God, hulle Vader, weet al lankal dat hulle Syne is, want die Heilige Gees het hulle Syne gemaak. Daarom luister hulle nou na Hom. Jesus het gesorg dat hulle vir God aanvaarbaar is; daarvoor moes Hy egter sy eie lewe gee.Mag God vir julle baie goed wees. Mag julle rustig en veilig by Hom voel, sonder dat enigiets julle pla.
3 God, die Vader van Jesus Christus, is darem groot en wonderlik. Hy self het ons sy kinders gemaak. ’n Mens staan verstom voor sy geweldige goedheid. God het ons beloof dat wat Syne is, ook ons s’n is.
4 Met al die dinge wat Hy vir ons beloof het, kan niks skeefloop nie, want dit kan nie stukkend of verlore raak nie. God bêre dit vir ons daar by Hom. Daarom twyfel ons nie een oomblik dat God sy woord gaan hou nie. Ons weet dit gaan gebeur, al weet ons nie wanneer nie. God het mos bewys dat Hy al die dinge vir ons kan en wil doen toe Hy Jesus uit die dood opgewek het.
5 God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur wat julle geestelik kan seermaak nie. Hy is sterk genoeg om dit te kan doen. Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red. Alles is al reg daarvoor. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God al die wonderlike dinge wat Hy vir julle reggemaak het, vir julle kom uitdeel. Daarvan kan julle seker wees en daarom kan julle inderdaad baie bly en opgewonde wees.