14 Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie.
15 Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg.
16 Die Skrif sê:“Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.”
17 Julle ken mos julle Vader met wie julle so in gebed praat. Hy trek niemand voor nie. Wat vir Hom saak maak, is of iemand vir Hom leef of nie. Laat julle hele lewe dus vertel van die respek wat julle vir God het.
18 Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei.
19 Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie!
20 God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer.