19 Deur die Gees is Hy na die geeste toe wat opgesluit is en wag vir die oordeel. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het en leef. Weet julle wie is hierdie geeste?
20 Dit is die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was destyds darem baie geduldig met daardie mense. God het hulle ’n unieke kans gegee terwyl Noag sy skip gebou het. Tog wou hulle nie hoor nie. Hulle het maar aangehou om hulle nie aan God te steur nie. Uiteindelik, toe die reën begin uitsak, is daar net ’n handjie vol mense die skip in, agt in totaal. Hulle was toe die enigstes wat uit daardie groot vloed gered is.
21 Hierdie dinge is eintlik vir ons ’n voorbeeld van wat op geestelike gebied by die doop gebeur. Daar skei die paaie van die mense wat gered word en dié wat nie gered word nie. Dit gaan nie oor vuilgoed wat die water van jou liggaam afwas nie. Dit gaan eerder oor dit wat binne-in jou gebeur. Dit gaan daaroor dat jy God opreg vra om alles weg te vat wat jou skuldig laat voel. Dit is moontlik omdat Jesus uit die graf opgestaan het en leef.
22 Hy is na God toe en daar sit Hy op die ereplek direk langs God. Van daar heers Hy oor alles en almal. Selfs die onsigbare magte en die engele staan onder sy gesag.