5 In die ou tyd het die vroue wat God getrou met alles gedien het, hulle ook so mooi gemaak. Hulle was goeie vroue wat na hulle man geluister het.
6 Dink aan Sara as voorbeeld. Sy het na Abraham geluister en erken dat hy die leiding in die gesin moes neem. As julle reg leef en nie toelaat dat mense julle bangmaak of verkleineer as julle vir God leef nie, behoort julle soos Sara ook aan God se geestelike gesin.
7 Net so moet ’n man hom goed gedra in sy gesin. Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie. Onthou, sy kan haarself nie so goed beskerm en verdedig soos jy kan nie. Net soos vir jou, het God ook vir vroue die ewige lewe uit genade gegee. As jy so leef, sal jy baie rustig met God in gebed kan praat sonder dat jou gewete jou pla.
8 Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie.
9 As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het.
10 Daar staan mos geskryf:“Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie.
11 Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen.“Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.”