8 Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.
9 As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom.
10 God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help. Soos iemand wat in ’n huis aangestel is om ander te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat ons dit eintlik verdien.
11 Byvoorbeeld, as een van julle preek, moet dit wees asof God deur hom praat. As iemand ’n ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee. Op dié manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry, omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om al hierdie dinge te doen. Almal sal Hom erken as die Een wat in alles groot en sterk is, nie net vandag nie, maar vir ewig en altyd. Daarvan kan julle seker wees.
12 My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry.
13 Dink maar aan Jesus. Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is.
14 As mense lelik met julle praat omdat julle Jesus s’n is, moet julle bly wees. Dit is vir julle ’n bewys dat God se Gees, wat groot en belangrik is, in julle lewe aan die werk is en dat mense dit raaksien.