1 Petrus 5:1-6 DB

1 Vir die kerkleiers onder julle wil ek iets besonders sê. Ek self is ook ’n kerkleier wat vir ander van die lyding van Jesus vertel. Wanneer Jesus weer kom, sal ek ook die eer kry wat Hy aan gelowiges gaan gee. Ek weet dus waarvan ek praat.

2 Pas die mense wat aan God behoort goed op, want julle moet as hulle leiers vir hulle sorg. Sorg mooi vir hulle. Dit moet nie vir julle ’n las wees asof iemand julle dwing nie. Nee, julle moet dit doen omdat julle dit graag wil doen en dit vir julle lekker is. Julle moenie vra wat julle daardeur gaan ontvang nie, maar liewer wat julle kan gee deur vir ander iets te beteken. God wil dit so hê.

3 Moenie baasspelerig wees nie, maar lei die medegelowiges eerder deur die goeie voorbeeld wat julle stel.

4 Wanneer Jesus, die Een wat so goed vir ons almal sorg, weer kom, sal Hy julle soos konings behandel. Hy sal julle die eer gee wat net konings kry en niemand sal dit van julle kan wegvat nie.

5 Ek het ook iets besonders om vir die jonger mense te sê. Luister na die leiers in die gemeente. Julle moet mekaar help waar hulp nodig is sonder om te vra wat dit julle gaan kos. Moenie te veel van julleself dink nie, maar ken liewer julle plek. Daar staan mos geskryf:“God is nie aan die kant van mense wat te veel van hulleself dink nie; Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees.”

6 Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ’n ereplek by Hom gee.