9 Julle onthou seker nog hoe hard ek daar by julle geswoeg en gesweet het. Tussen al my preke deur het ek my eie inkomste verdien. Ek het dit gedoen omdat ek nie ’n finansiële las op julle skouers wou laai terwyl ek die goeie nuus oor God aan julle bekendmaak nie.
10 Julle weet dat nie ek of een van my helpers ’n voet verkeerd gesit het daar by julle nie. God weet dit ook. Ons het alles gedoen wat Hy van ons verwag.
11-12 Ons het nie een van julle sleg behandel nie. Soos ’n pa wat mooi met sy kinders praat en hulle aanmoedig om die regte dinge te doen, het ons mooi met julle almal gepraat. Ons het by julle gepleit om God te verheerlik deur alles wat julle doen en sê. Hy self het julle uitgesoek om deel te wees van sy hemelse koninkryk en om te deel in sy heerlikheid.
13 Ek kan nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie. Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel het, het julle nie slegs ’n paar menslike opinies oor God aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God. Hy self werk nou in julle almal wat glo.
14 My broers en susters, julle weet teen hierdie tyd ook van die gemeentes van God daar in Judea. Net soos julle behoort hulle ook aan Jesus Christus. En, net soos hulle daar in Judea onder die Jode moes ly as gevolg van hulle geloof, ly julle nou ook onder julle eie volksgenote.
15 Daardie Jode wat die kerk nou so vervolg, het ons Here Jesus en God se boodskappers doodgemaak. Hulle tree teen God se wil op. Ja, hulle is niks minder nie as vyande van die mensdom.
16 Hulle het hulle bes gedoen om my te probeer keer om die goeie nuus aan mense uit ander volke te preek sodat hulle ook gered kon word. Daardeur het hulle hulle eie graf gegrawe. Hulle beker loop oor van sonde! Daarom het God se oordeel hulle reeds begin tref.