4 Ek het van julle gemeentelede raakgeloop. Die goddelike waarheid straal sommer uit die manier waarop hulle hulle gedra. Ek kan julle nie sê hoe bly ek was nie! Dié soort lewenstyl is mos wat ons hemelse Vader van ons wil hê.
5 Liewe vrou, ons moet mekaar liefhê! Ek vra mooi. Ek vra nie nou iets wat ek nie voorheen van julle gevra het nie. Dit is die ou opdrag wat ons nog altyd het.
6 Liefde is mos niks anders as om volgens die wil van God te leef nie. En wat wil God dan van ons hê? Dít: wat ons doen, moet ons in liefde doen. Ons weet dit al van die eerste dag af dat ons die evangelie gehoor het.
7 Nou iets anders. Pas op! Die wêreld is vol mense wat ander om die bos wil lei. Hulle ontken dat Jesus Christus regtig mens van vlees en bloed geword het. Iemand wat so sê, is die misleier en die antichris. Wees daarom op julle hoede.
8 Moenie toelaat dat ons werk onder julle ontspoor nie. Julle moet mos nog die volle beloning van God ontvang.
9 Daar is dus twee moontlikhede: Iemand kan vierkant agter die leer oor Jesus bly staan en so aan die kant van die Vader en die Seun bly staan. Iemand kan in ’n ander rigting koers kry en nie vas bly staan by die leer oor Jesus nie. So ’n persoon staan nie aan die kant van God nie.
10 Veronderstel daar daag iemand by julle op en vertel julle allerhande snaakse dinge oor Jesus Christus, wat moet julle doen? Moenie hom in julle huis innooi nie. Om die waarheid te sê, julle moet hom nie eens groet nie.