6 Ek het al dikwels swaargekry omdat ek in Christus glo, maar Hy het my nog elke keer daardeur gehelp. Daarom kan ek julle nou troos wanneer julle swaarkry. Ek kan julle help om aan te hou glo. Wanneer ek God se troos ervaar, deel ek dit ook met julle terwyl julle dapper dieselfde soort lyding as ek ervaar. Natuurlik twyfel ek nie vir ’n enkele oomblik dat julle sal aanhou glo nie.
7 Ek weet dat julle dieselfde lyding as ek ervaar. Maar ek weet ook dat julle dieselfde troos as ek van God ontvang.
8 Weet julle, ek het onlangs in Asië baie gely ter wille van my geloof. Dit was verskriklik. Ek is so erg mishandel dat ek dit later nie meer kon uithou nie.
9 Dit het gevoel of ’n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Maar ek het toe ’n baie belangrike les geleer. Ek het geleer om te bly vashou aan God wat selfs die dooies lewendig kan maak.
10 Uiteindelik het Hy my uit daardie lewensgevaarlike situasie gered. Daarom weet ek met alles in my dat God my vorentoe weer sal red wanneer ek in gevaar verkeer. Hy sal my elke keer help wanneer ek in die nood is.
11 Bid asseblief vir ons. Daarsonder kan ons glad nie ons werk vir die Here doen nie. Julle gebede maak dat baie ander mense ook begin bid. Hulle sal vir God dankie sê omdat Hy ons met sy hemelse gawes toegerus het sodat ons die goeie nuus aan hulle kan bekendmaak. Op hierdie manier werk al julle gebede mee aan die uitdra van die evangelie.
12 Ek is trots daarop dat ek opreg optree teenoor almal, ook teenoor julle. God self stel my in staat om sonder vals motiewe op te tree. Hiervan is ek absoluut oortuig. Ek hou my nie met allerhande slimpraatjies besig nie. Nee, ek is heeltemal afhanklik van God se goedheid.