5 Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê.
6 Omdat ons tot die tande toe gewapen is, staan ons gereed om elke stukkie ongehoorsaamheid te straf en daarmee af te reken. En ons gaan dit ook daar by julle kom doen sodra julle geleer het om regtig na die Here te luister.
7 Kom ek sê nou sommer reguit vir julle: julle leen julle ore uit aan die verkeerde mense. As julle dan so seker is dat julle aan Christus behoort, moet julle asseblief ’n slag met nuwe oë na my kyk. Weet julle, ek behoort ook aan Hom. Ek is ’n Christen, net soos julle.
8 Miskien het ek vroeër ’n bietjie te veel gespog oor die gesag wat die Here aan my gegee het. Maar ek hoef regtig nie daaroor verleë voor julle te staan nie. Die Here het my immers aangestel om julle geloof op te bou. En dit doen ek ook. Ek is nie soos daardie spul vals leraars wat net daarop uit is om julle geloof af te breek nie. Daarom is ek regtig nie skaam oor my optrede nie.
9 Maar wag, kom ons gesels eers ’n bietjie oor al daardie praatjies onder julle dat ek julle met my briewe probeer bangmaak.
10 Daar by julle word mos gesê: “Paulus se briewe is ernstig en kwaai, maar hy beteken net mooi niks wanneer hy hier is nie.
11 Die arme man maak maar ’n swak indruk en sy woorde is net ’n bondel wind. Hy preek ons skoon aan die slaap.” Hoor hier, dis alles leuens. Die mense wat hierdie stories versprei, moet weet dat ek altyd dieselfde is, of ek nou ’n brief aan julle skryf en of ek in lewende lywe daar by julle is.