17 Wat ek nou sê, sê ek natuurlik nie met die gesag van die Here agter my nie. Nee, ek doen dit as ’n dwaas, en met die selfvertroue van ’n dwaas.
18 Omdat so baie mense oor wêreldse dinge spog, gaan ek nou dieselfde doen.
19 In elk geval, julle wat mos so verskriklik slim is, het glad nie ’n probleem om na dwase te luister nie, of hoe?
20 Julle hou mos daarvan as mense julle slawe maak van allerhande verkeerde leringe wat hulle in julle kele afdruk. Julle gee ook nie om as hulle julle geld vat met hulle vroom praatjies nie. Dis skynbaar ook nie vir julle ’n probleem dat hulle julle vir hulle eie gewin misbruik nie, of dat hulle op julle neersien en julle soos vloerlappe behandel nie.
21 Ek moet nou maar teenoor julle erken dat ek veels te swak is vir sulke behandeling. Ek sal dit nie vat as ander mense sulke dinge aan my doen nie.Julle hou ook baie daarvan as mense spog met al die groot dinge wat hulle vir die Here doen. Daarom doen ek dit nou ook. (Onthou tog net, dit is “die dwaas” wat nou aan die woord is.)
22 Daardie mense wat by julle preek, vertel vir almal dat hulle opregte Hebreërs is wat nog Hebreeus kan praat. Wel, ek ook. Hulle sê hulle is Israeliete. Ek ook. En lede van Abraham se nageslag. Ek ook.
23 Dink hulle miskien dat hulle sulke wonderlike dienaars van Christus is? Wel, ek is ’n nog beter dienaar van Christus as hulle. Nou raak ek totaal uitspattig!