3 Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie.
4 Julle gee my slapelose nagte! Julle glo elkeen wat deesdae daar by julle kom preek, ook al praat hulle oor heeltemal ’n ander Jesus as ek. Dit maak nie vir julle saak of hulle ’n ander evangelie na julle toe bring as die een wat julle by my gehoor het, en of hulle oor ’n ander gees met julle praat as die Een oor wie ek praat nie, julle eet dit alles vir soetkoek op!Op die oomblik tree daar juis sulke mense by julle op. Kom ek sê sommer reguit vir julle dat daardie sogenaamde wonderlike apostels nie so belangrik is as wat hulle julle probeer wysmaak nie.
5 Ek staan nie ’n enkele tree vir hulle terug nie.
6 Selfs al is ek nie so glad met my mond soos hulle nie, weet ek baie goed hoe God se raadsplan werk. Dit het julle tog gehoor toe ek daar by julle was.
7 Ek vra my af of ek nie ’n groot fout gemaak het toe ek die goeie nuus oor God daar by julle kom bekendmaak het nie. Ek het julle soos ’n slaaf gedien sodat julle al die eer kon kry. Ek wou nie ’n sent van julle hê nie.
8 Ander gemeentes moes vir my sorg. Ek het as’t ware die kos uit hulle mond gevat sodat ek julle met die goeie nuus kon bedien.
9 Ek onthou nog die keer toe ek nie ’n sent op my naam gehad het nie. Maar nie eens toe het ek dit gewaag om julle te vra om my te help nie. Nee, ’n groepie Christene uit Masedonië het my uit my geldelike verknorsing kom help. Ek was nog nooit ’n geldelike las vir julle nie. So sal dit in die toekoms ook bly.