7 Ek vra my af of ek nie ’n groot fout gemaak het toe ek die goeie nuus oor God daar by julle kom bekendmaak het nie. Ek het julle soos ’n slaaf gedien sodat julle al die eer kon kry. Ek wou nie ’n sent van julle hê nie.
8 Ander gemeentes moes vir my sorg. Ek het as’t ware die kos uit hulle mond gevat sodat ek julle met die goeie nuus kon bedien.
9 Ek onthou nog die keer toe ek nie ’n sent op my naam gehad het nie. Maar nie eens toe het ek dit gewaag om julle te vra om my te help nie. Nee, ’n groepie Christene uit Masedonië het my uit my geldelike verknorsing kom help. Ek was nog nooit ’n geldelike las vir julle nie. So sal dit in die toekoms ook bly.
10 Ek is baie trots daarop dat ek nie julle geld wil hê nie; Christus weet dit. Niemand daar by julle in die provinsie Agaje sal my oortuig om anders hieroor te dink nie.
11 Weet julle hoekom ek nie julle geld wil vat nie? Wel, omdat ek verskriklik baie vir julle omgee. God weet dit. Daarom wil ek vry wees om julle met die goeie nuus te dien sonder dat ek julle weer iets skuld indien ek julle geld sou vat.
12 Wat my werkswyse betref: ek is glad nie van plan om die manier waarop ek vir die Here werk te verander nie. Ek sal daardie spul wat nou by julle optree se vals motiewe ontmasker. Hulle vertel glo vir julle dat hulle ook apostels is, net soos ek.
13 Maar hulle is ’n spul leuenaars wat net maak asof hulle deur Christus as sy apostels aangestel is.