2 Korintiërs 12:11-17 DB

11 Ja, ek het toe soos ’n dwaas oor myself gaan staan en praat. Maar julle het my gedwing om dit te doen. Dit sou nie nodig gewees het as julle my goeie naam beskerm het voor daardie danige apostels wat nou in Korinte is nie. Al dink hulle dat hulle verskriklik belangrik is, staan ek nie ’n enkele tree terug vir hulle nie. Natuurlik is ek glad nie iets besonders nie. Ek is net ’n doodgewone mens.

12 Tog het ek alles gedoen wat van my as God se apostel verwag word. Toe ek daar by julle was, het ek groot tekens en wonders en kragtige dade gedoen. Dit is mos wat julle van ’n apostel verwag, of hoe?

13 Sê my, het ek julle al ooit afgeskeep? Het ek julle slegter behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek geweier het om julle geld te aanvaar? Vergeef my tog dat ek julle hierdie verskriklike “onreg” aangedoen het.

14 Ek staan nou op die punt om julle ’n derde maal te kom besoek. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is nie van plan om hierdie keer julle geld te kom vat nie. Ek wil niks van julle hê nie, behalwe natuurlik dat julle voluit vir die Here moet lewe. Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg lewe. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het.

15 Ek is so lief vir julle dat ek bereid is om alles wat ek het weg te gee vir julle. Ja, ek sal selfs my eie lewe vir julle opoffer. Daarom kan ek nie verstaan hoekom julle my al hoe minder liefhet terwyl ek julle al hoe meer liefhet nie.

16 Julle stem teen hierdie tyd hopelik saam dat ek nog nooit enige geldelike las vir julle was nie. Maar miskien dink julle dat dit ’n skelmstreek van my kant af is.

17 Dalk sê julle onder mekaar dat ek julle geld met ’n ompad in die hande probeer kry deur een van my helpers wat ek na julle toe gestuur het. Wel, dit is glad nie waar nie.