2 Korintiërs 12:2-9 DB

2 Kom ek vertel julle gou van ’n ander man wat ook aan Christus behoort (onthou dit is steeds ek, “die dwaas”, wat aan die woord is).

3-4 Wel, daardie ander man is veertien jaar gelede op ’n dag skielik tot in die hoogste hemel weggevoer. Ek weet nie of hy met sy liggaam en al, of sonder ’n liggaam, in die hemel in is nie. Net God weet. Hierdie man is reguit na God se woonplek toe gevat. Daar het hy dinge gehoor wat hy nie mag oorvertel nie.

5 Wel, ek sal net oor daardie “ander Paulus” spog, maar nie oor myself nie. Al waaroor ek, “die dwaas”, kan spog, is oor my swakhede en probleme.

6 As ek dit wel sou waag om ’n bietjie oor myself te praat, sal ek nie regtig ’n gek van myself maak nie, want alles wat ek sê, is die reine waarheid. Maar ek het besluit om dit nie te doen nie. Netnou dink mense dat ek verskriklik belangrik is as ek heeltyd net oor my groot geestelike ervarings praat. En dit is tog nie waaroor ons geloof gaan nie. Al wat julle eintlik oor my hoef te weet, is dit wat julle my sien doen en dit wat julle oor my werk as apostel hoor.

7 Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ’n groot struikelblok oor my pad gestuur. Al my swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in my voet bly vassit het. Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na my toe gestuur het om my pimpel en pers te kom slaan. Hierdie struikelblok moes keer dat ek verwaand raak oor al die wonderlike geestelike ervarings wat ek al beleef het.

8 Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek.

9 Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”