1 Klink dit of ek nou besig is om oor myself te spog? Nee! Ek probeer julle glad nie beïndruk nie.
2 Julle self is immers my getuigskrif. Ek het nie die een of ander getuigskrif van julle kant af nodig om my goeie kwaliteite te besing soos party ander mense doen nie.
3 Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra. Julle is soos ’n brief wat in my hart neergeskryf is en wat ek elke dag lees. Natuurlik lees al die ander mense wat elke dag met julle te doen het, julle ook. Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is. Toe ek daar by julle gepreek het, het Hy in julle lewe begin skryf. Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie. Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik. Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie, maar op die tafels van julle hart. Hy het julle splinternuut gemaak.
4 Deur sy goedheid help Christus my om al my vertroue in God te stel. Daarom probeer ek nooit om iets uit eie krag te doen nie.
5 Uit my eie kan ek in elk geval niks regkry nie. God self het my toegerus om sy werk te doen. Hy het my aangestel as sy dienaar.
6 Ek moet vir mense gaan vertel van die nuwe ooreenkoms wat God tussen Hom en ons almal tot stand gebring het. Hierdie ooreenkoms is nie met pen en papier geskryf nie. Nee, luister mooi: dit is deur die Gees in ons lewe oorgeskryf. ’n Ooreenkoms op papier bring in elk geval niks anders as die dood nie. Maar die Gees gee vir altyd lewe. Kom ek verduidelik met ’n voorbeeld wat ek bedoel.
7 Julle weet mos dat al Moses se wette op klip uitgekap is. Toe hy dit daar op die berg ontvang het, het sy gesig so helder geblink dat die Israeliete hom nie in die oë kon kyk nie. Na ’n rukkie het die glans egter van sy gesig verdwyn. Hierdie wonderlike tydperk van die wet het nie daarin geslaag om mense by die ware lewe uit te bring nie. Maar dit was nogtans ’n ongelooflike tyd.