2 Korintiërs 5:8-14 DB

8 Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly.

9 Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld.

10 Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg.

11 Ek het groot eerbied vir die Here. Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo. God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk. Ek hoop julle weet dit ook.

12 Terloops, ek sê dit nie om julle te probeer beïndruk nie. Nee, ek sê dit vir julle sodat julle op die regte manier op my trots kan wees. Dan het julle ten minste ’n antwoord vir daardie mense wat so maklik spog oor al die “groot dinge” wat hulle vir die Here doen. Vir hulle gaan dit net oor uiterlike suksesse, nie oor ’n mens se innerlike lewe nie.

13 Ek het ook al groot geestelike ervarings gehad. Hierdie bonatuurlike ervarings, waarin ek in ’n ander staat van bestaan verkeer het, is egter iets tussen my en God. Ek wil nie daaroor praat nie. Wanneer ek in my normale staat van bestaan is, is dit ter wille van julle. Dan kan ek vir julle in gewone taal van God vertel.

14 Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur. Ons weet dat een Man ter wille van ons almal gesterf het. Daarom is ons almal nou ook dood. Ons is bevry van die mag van die sonde en die dood.