1 Eintlik hoef ek glad nie aan julle te skryf oor die kollekte waarmee ons die gelowiges in Jerusalem wil dien nie.
2 Ek weet mos hoe graag julle daarby wil inskakel. Daarom het ek oral by die gelowiges in Masedonië oor julle gespog. “Die gelowiges in die provinsie Agaje is al sedert verlede jaar betrokke by hierdie projek,” het ek vir hulle almal vertel. Julle ywer het teen hierdie tyd al die ander gelowiges ook aangesteek.
3 Ek stuur nou hierdie broers na julle toe sodat my spoggery oor julle nie net ’n klomp leë woorde sal bly nie. Ek het vir hulle gesê dat julle bydraes gereed sal wees as hulle daar aankom. Sorg asseblief dat dit so is. Moenie my nou in die steek laat nie.
4 Dink net hoe skaam julle sal kry as ek later self daar by julle opdaag (saam met die afgevaardigdes van Masedonië) en ek dan moet uitvind dat julle toe nooit die nodige fondse bymekaargemaak het nie. Dan sal my vertroue in julle sommer ’n ernstige knou kry.
5 Om seker te maak dat die insameling van die kollekte daar by julle glad verloop, het ek besluit om hierdie broers solank na julle toe te stuur. Hulle sal julle kom help om julle offer vir Jerusalem betyds gereed te kry. Julle het immers al lankal belowe dat julle dit sal gee. Maar dink asseblief eers goed oor die saak na en maak julle bydraes op die regte manier bymekaar. Onthou, dit moet regtig ’n dankoffer wees, nie iets wat van julle afgepers is nie.