6 God het Sodom en Gomorra ook veroordeel en met die aarde gelyk gemaak. Hulle dien as ’n voorbeeld van die soort oordeel wat God sal laat neerkom op almal wat sonder Hom leef.
7 In daardie tyd het God net vir Lot gespaar. Hy het in die regte verhouding met God geleef te midde van al die seksuele losbandigheid van almal rondom hom wat hulle nie aan God gesteur het nie.
8 Hierdie goeie man moes dag na dag vaskyk in die verskriklike sondes wat daar hoogty gevier het. Hy wat in die regte verhouding met God geleef het, moes sulke gruwelike dinge aanhoor dat dit hom byna van sy kop af moes laat raak het.
9 Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ’n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie. Maar die Here weet ook hoe om slegte mense te straf en hoe om hulle gevange te hou tot op die groot oordeelsdag.
10 Dit is veral daardie mense wat agter al hulle seksuele begeertes aanloop en hulle oorgee aan elke vorm van seksuele perversiteit wat moet lig loop. Hierdie mense wys dat hulle hulle nie aan die Here se gesag steur nie. Daarom gaan Hy hulle swaar straf.Hierdie vals leraars oor wie ek met julle praat, dink heeltemal te veel van hulleself. Hulle is arrogant.
11 Dit pla hulle nie wanneer hulle die glorieryke hemelse wesens beledig nie. Nie eens een van die engele, wat baie sterker en belangriker as daardie mense is, sal so iets waag nie. Geen engel sal ooit beledigende dinge oor hierdie wesens sê voor die Here nie.
12 Hierdie mense is soos ’n trop wilde diere wat gevang en vernietig moet word. Hulle sê beledigende dinge sonder dat hulle mooi weet waarmee hulle besig is. Maar hulle sal nie daarmee wegkom nie. Op die ou end sal hulle gevang word.