1 Ek, Paulus, wat spesiaal deur Christus Jesus as sy boodskapper gestuur is omdat God dit so wou hê, het hierdie brief geskryf.Dit is bedoel vir God se mense in Efese, almal wat in Christus Jesus glo.
2 Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle goed wees, ver meer as wat julle verdien. Mag Hulle vir julle vrede gee soos net Hulle kan.
3 Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus, te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is, het God ons - wat eintlik niks was nie - baie belangrik kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee wat by God die moeite werd is vir ’n mens om te hê.
4 Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie.
5 Dit alles het Hy uit liefde gedoen. Ja, Hy het vooraf besluit om ons sy eie kinders te maak. Hy het besluit om dit te doen om geen ander rede as dat Hy dit graag vir ons wou doen nie. En dit is nie sommer net ’n storie nie - Jesus Christus het kom sorg dat dit regtig gebeur.
6 Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur.