27 So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees.
28 Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik.
29 Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi.
30 Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam.
31 Die Skrif sê mos:“’n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.”
32 Mense kan hierdie dinge nie altyd mooi verstaan of verklaar nie. Ek noem dit omdat dit vir ons iets leer oor die sterk band wat daar tussen Christus en sy kerk is.
33 Dit geld ook van julle: elke man moet sy vrou net so liefhê as wat hy homself het, en die vrou moet haar man respekteer.