6 Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie.
7 Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here. Laat dit straal uit alles wat julle doen.
8 Julle weet mos dat God elkeen sal beloon vir die goeie dinge wat hy gedoen het; dit maak nie saak of daardie persoon belangrik is of nie.
9 Vir die base wil ek vra om die mense wat onder hulle werk net so te behandel. Moenie hulle die hele tyd met slegte dinge dreig nie. Onthou dat julle en die mense wat onder julle werk dieselfde Here in die hemel het. Hy trek niemand voor nie, maar behandel almal eenders.
10 Daar bly nog een ding oor waaroor ek met julle wil praat. As Christene moet julle in hierdie lewe sterk staan, maar julle kan dit alleen doen as julle naby aan die Here bly. Hy is sterk en daarom kan Hy julle sterk maak.
11 Laat ek die voorbeeld van soldate in ’n oorlog gebruik. Trek die klere aan wat God vir julle gegee het om mee te veg sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie. Een ding moet julle weet. Daar is ’n oorlog aan die gang en ons veg ook daarin.
12 Dis nie ’n oorlog teen gewone mense nie. Ons moet teen die onsigbare geestelike magte van Satan veg. Hulle hou hulle sterk hier op aarde en doen bose dinge, maar kom eintlik van oral af. Sorg dat julle al die wapens reg hou wat God vir julle gegee het sodat wanneer die bose magte op julle toesak, julle nie ’n duim vir hulle hoef terug te tree nie. Met al sy aanvalle en dinge sal die duiwel net mooi niks aan julle kan doen nie. Julle sal die wenners wees.