10 My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het.
11 Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken.
12 Daarom stuur ek hom na jou toe terug. Dit voel vir my of ’n deel van my hart uitgeruk is en saam met hom teruggaan.
13 Ek sou Onesimus bitter graag hier by my wou hou. As hy hier gebly het, kon hy my in jou plek bygestaan het. Want, soos jy weet, gaan my sendingwerk voort selfs terwyl ek ter wille van die evangelie in die tronk is.
14 Maar ek wou hom nie sonder jou toestemming hier hou nie. As ek Onesimus hier gehou het, sou jy verplig gewees het om dit so te aanvaar, maar dan sou ek nie reg opgetree het nie. Jy moet self daaroor besluit.
15 Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het.
16 Nie meer as ’n slaaf nie. Nee, hy is nou baie meer as dit. Jy kry Onesimus nou terug as jou broer in die Here; as iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my terwyl hy saam met my in die tronk was; hoeveel te meer sal hy dit nie vir jou wees nie. Jy kry nou ’n splinternuwe mens en ’n broer in die Here terug.