9 Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus.
10 My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het.
11 Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken.
12 Daarom stuur ek hom na jou toe terug. Dit voel vir my of ’n deel van my hart uitgeruk is en saam met hom teruggaan.
13 Ek sou Onesimus bitter graag hier by my wou hou. As hy hier gebly het, kon hy my in jou plek bygestaan het. Want, soos jy weet, gaan my sendingwerk voort selfs terwyl ek ter wille van die evangelie in die tronk is.
14 Maar ek wou hom nie sonder jou toestemming hier hou nie. As ek Onesimus hier gehou het, sou jy verplig gewees het om dit so te aanvaar, maar dan sou ek nie reg opgetree het nie. Jy moet self daaroor besluit.
15 Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het.