Galasiërs 1:4-10 DB

4 Jesus Christus het sy lewe vir ons opgeoffer sodat ons sondes nie meer soos ’n muur tussen God en ons staan nie. Hy het dit vir ons gedoen om ons uit die kloue van hierdie sondige wêreld te bevry. Op hierdie manier het Jesus ons God en hemelse Vader se raadsplan tot uitvoer gebring.

5 Aan God alleen kom al die eer toe. Nou en vir altyd! Vir seker!

6 Wat is dit deesdae met julle? Ek kan nie glo dat julle so gou van God af weggedraai het nie. Het julle vergeet dat Hy julle sy kinders gemaak het omdat Christus so ongelooflik goed vir julle was? En wat doen julle toe om vir Hom daarvoor dankie te sê? Julle gaan staan en aanvaar ’n heeltemal ander evangelie. Begryp julle dit nou nog nie? Daar is nie ’n ander evangelie nie!

7 Maar julle leen mos julle ore uit aan ’n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat.

8 Kom ek sê reguit vir julle: as mense ’n ander weergawe van die goeie nuus oor Christus verkondig as dit wat julle by my gehoor het toe ek vroeër daar by julle was, sal God hulle verskriklik straf. Moenie eens na my of na ’n engel uit die hemel luister wat iets anders as dit vir julle kom vertel nie.

9 Kom ek sê dit nog ’n keer sodat julle baie mooi kan hoor: as enigiemand dit sou waag om iets anders oor Christus te sê as wat julle by my gehoor het, wag daar groot probleme op hulle. God se verskriklike vloek sal hulle tref.

10 Dink julle miskien dat ek al dié kwaai dinge sê om julle te probeer beïndruk? Of om God se guns te wen? Probeer ek dalk om in party mense se goeie boekies te kom? Glad nie. As dit my doel in die lewe is om populêr te wees, is ek nie werd om Christus se dienaar genoem te word nie.