Galasiërs 1:7-13 DB

7 Maar julle leen mos julle ore uit aan ’n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat.

8 Kom ek sê reguit vir julle: as mense ’n ander weergawe van die goeie nuus oor Christus verkondig as dit wat julle by my gehoor het toe ek vroeër daar by julle was, sal God hulle verskriklik straf. Moenie eens na my of na ’n engel uit die hemel luister wat iets anders as dit vir julle kom vertel nie.

9 Kom ek sê dit nog ’n keer sodat julle baie mooi kan hoor: as enigiemand dit sou waag om iets anders oor Christus te sê as wat julle by my gehoor het, wag daar groot probleme op hulle. God se verskriklike vloek sal hulle tref.

10 Dink julle miskien dat ek al dié kwaai dinge sê om julle te probeer beïndruk? Of om God se guns te wen? Probeer ek dalk om in party mense se goeie boekies te kom? Glad nie. As dit my doel in die lewe is om populêr te wees, is ek nie werd om Christus se dienaar genoem te word nie.

11 My broers en susters, verstaan my baie mooi: die goeie nuus oor Jesus Christus wat ek preek, het ek glad nie self uitgedink nie. Dit kom ook nie tweedehands van iemand anders af nie.

12 Ek het dit glad nie op die een of ander plek gaan leer nie. Nee, op ’n bonatuurlike manier het Jesus Christus die goeie nuus wat ek verkondig aan my bekendgemaak.

13 Voordat ek ’n Christen geword het, was ek ’n groot aanhanger van die Joodse geloof. In daardie tyd het ek die kerk van God wreedaardig vervolg. Ek wou al wat Christen is van die aardbol afvee.