Galasiërs 2:10-16 DB

10 Hulle het wel een versoek aan ons gerig: dat ons tog nie die armes in die Jerusalemgemeente moet vergeet nie. En, soos julle baie goed weet, is ek nog steeds besig om vir hulle geld in te samel.

11 ’n Ruk later, toe ek saam met Barnabas-hulle in die stad Antiogië gewerk het, het Petrus ook soontoe gekom. Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het. Kom ek vertel julle gou wat gebeur het.

12 Toe Petrus daar in Antiogië was, het hy heeltyd saam met die nie-Joodse gelowiges geëet wat ook deel van die gemeente was, totdat ’n klompie Joodse gelowiges in die gemeente aangekom het. Hulle was aanhangers van Jakobus, een van die leiers van die kerk in Jerusalem. Hierdie manne het steeds die besnydenis voorgestaan. Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat hulle sou sê as hulle sien dat hy nie meer die Joodse reëls oor rein en onrein kos gehoorsaam nie.

13 Ongelukkig het Petrus die ander Joodse gelowiges beïnvloed om net soos hy te maak. Die uiteinde: kort voor lank het al die Joodse gelowiges eenkant gesit en eet en al die ander gelowiges op hulle eie. Selfs Barnabas, saam met wie ek daar in die kerk in Antiogië gewerk het, is deur hierdie skynheiligheid meegevoer.

14 Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?”

15 Ons is Jode al van ons geboorte af en nie ’n klomp sondaars wat God glad nie ken nie. Tog is ons glad nie God se witbroodjies nie.

16 Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie.