2 Dit was egter nie my eie besluit nie. Nee, God het in ’n openbaring vir my kom wys dat ek Jerusalem toe moes gaan. Daar het ek die boodskap wat ek oral onder nie-Jode preek, aan die gelowiges in die stad voorgelê. Ek het ook privaat met die leiers van die kerk in Jerusalem gepraat, met al daardie mans wat so ’n groot naam in die kerk het. Ek het dit gedoen omdat ek doodseker wou maak dat my sendingwerk nie verniet was nie. Dink net wat sou gebeur het as Jerusalem se kerkleiers ernstige kritiek op my boodskap gehad het. Dan was al my harde werk daarmee heen.
3 Titus, wat saam met my Jerusalem toe gegaan het, was ’n Griek. Hy was nie besny soos die Joodse wet dit vereis nie. Gelukkig het die gelowiges in Jerusalem ook nie van hom verwag om dit te doen nie.
4 Maar daar was wel ’n paar mense wat wou hê dat hy besny moes word. Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak.
5 Maar ons het dit nie toegelaat nie. Met al ons krag het ons gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie spul verander word. Weet julle, ons het dit ter wille van julle gedoen. Ons wou doodseker maak dat die regte evangelie ook daar by julle in Galasië uitkom.
6 Maar wag, ek is nog besig om met julle te praat oor my ontmoeting met die leiers van die kerk in Jerusalem. Terloops, wie hulle vroeër was en wie hulle nou is, is regtig nie vir my belangrik nie. God kyk immers nie na mense se uiterlike nie.
7 Wel, hierdie belangrike mans was heeltemal tevrede met wat ek preek.
8 Hulle het besef dat God presies dieselfde boodskap aan my gegee het om aan mense buite Israel bekend te maak as wat Petrus onder die Jode verkondig. Natuurlik was dit nie vir my ’n verrassing nie. Dieselfde God wat Petrus as sy apostel aangestel het om onder mense te werk wat besny is, het my ook aangestel as sy apostel om onder mense te werk wat nie die teken van die besnydenis aan hulle liggame het nie.