Galasiërs 3:11-17 DB

11 Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!”

12 Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie.

13 Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.”

14 Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het.

15 My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham.

16 Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus.

17 Wat ek probeer sê, is dit: God het ’n wettige ooreenkoms met Abraham gemaak. Niemand kan dit nou ongeldig verklaar nie, ook nie die wet van Moses nie. Toe die wet sowat 430 jaar later gekom het, het dit nie hierdie ooreenkoms gekanselleer nie.