6 Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg.
7 Weet julle, ons almal wat in God glo, is ook Abraham se kinders.
8 Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.”
9 Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem.
10 Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.”
11 Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!”
12 Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie.