17 Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle!
18 Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is.
19 Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie.
20 Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle.
21 Sê my, julle wat so graag die wet wil gehoorsaam, het julle al ’n slag mooi gekyk na wat daar regtig in die Bybel geskryf staan?
22 Kom ons kyk weer na Abraham. Hy het twee seuns gehad.
23 Die een het hy by ’n slavin, Hagar, gehad. Sy naam was Ismael. En die ander seun by sy eie vrou, Sara. Sy naam was Isak. Die kind wat hy by die slavin gehad het, is gebore toe Abraham probeer het om sélf God se beloftes waar te laat word. Maar die ander kind is gebore presies net soos God hom belowe het dit sou gebeur.