2 Hulle erfporsie word beheer deur mense wat amptelik oor hulle aangestel is tot op die dag dat die testament sê hulle kan erf.
3 Weet julle, presies dieselfde het met ons gebeur. Voorheen was ons ook minderjarig. Dit was toe ons nog slawe was van die vyandige magte van hierdie wêreld.
4 Maar toe die regte tyd aanbreek, die tyd waarop God self besluit het, het Hy sy Seun na ons toe laat kom. Christus se aardse ma het toe aan Hom geboorte geskenk. En, soos alle Joodse seuns, het Hy onder die reëls van die wet grootgeword. Dit is hoekom Hy almal wat onder die swaar gewig van die wet gebuk gaan, kan vrymaak.
5 Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word. Ons is nie langer weeskinders nie.
6 Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: “Vader, liefdevolle Vader!”
7 Julle is nie meer slawe van die sonde en die wet nie. Nee, julle is nou volwaardige kinders van God. En omdat julle sy kinders is, is julle ook sy erfgename. Al sy goedheid is nou julle s’n.
8 Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode.