9 Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan? Wil julle weer van voor af slawe daarvan word?
10 Kyk, julle is klaar weer besig met ’n klomp nuttelose gebruike: julle hou allerhande heilige dae en maande en spesiale feesdae. Dink julle dat dit julle nader aan God sal bring?
11 Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het.
12 My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het.
13 Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was.
14 Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie.
15 Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het.