Galasiërs 5:10-16 DB

10 Maar voordat julle dink ek het julle heeltemal afgeskryf, wil ek darem net sê: ek is nie te mismoedig oor julle nie. In vertroue op die Here weet ek dat julle nie op sleeptou geneem sal word deur verkeerde leringe nie. Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom.

11 My liewe broers en susters, daar by julle word ’n storie versprei dat ek sou gesê het dat gelowiges nog steeds besny moet word. Dit is ’n leuen. Ek sou mos nooit soveel teëstand ervaar het as ek dit gesê het nie. My prediking oor die kruis sou dan nie so ’n groot probleem vir my opponente gewees het nie. Dit lyk vir my diegene wat sê Christene moet besny word, het julle kop behoorlik deurmekaargemaak.

12 Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer.

13 My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra.

14 Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.”

15 As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie.

16 Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie.