Galasiërs 5:11-17 DB

11 My liewe broers en susters, daar by julle word ’n storie versprei dat ek sou gesê het dat gelowiges nog steeds besny moet word. Dit is ’n leuen. Ek sou mos nooit soveel teëstand ervaar het as ek dit gesê het nie. My prediking oor die kruis sou dan nie so ’n groot probleem vir my opponente gewees het nie. Dit lyk vir my diegene wat sê Christene moet besny word, het julle kop behoorlik deurmekaargemaak.

12 Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer.

13 My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra.

14 Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.”

15 As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie.

16 Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie.

17 Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie.