11 Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker.
12 Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets. Die wet help ’n mens om die grypende kloue van die kwaad te systap.
13 Iemand wat ander mense sonder werklike liefde en gevoel behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar. As iemand egter liefdevol en sensitief teenoor ander optree, beteken dit dat daar by die oordeel niks teen so ’n persoon gesê sal word nie.
14 Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos ’n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so ’n mens se saak met God reg te maak nie. Luister na die volgende storie en dan sal julle verstaan wat ek bedoel.
15 Sê nou daar is in die gemeente ’n mede-Christen, man of vrou, wat nie klere het om aan te trek of kos het om te eet nie.
16 Een van julle sê vir die arme man of vrou: “Ek sien dit gaan sleg met jou, maar ek wens regtig dat dit sommer gou beter sal gaan. Ek hoop jy kry iets om aan te trek en kos om te eet.” Nadat hy dit gesê het, draai hy net daar om en doen nie ’n steek verder om te help met wat die arme man of vrou nodig het nie. Wat het al hierdie woorde nou miskien gehelp? Net mooi niks nie.
17 So is dit ook met jou verhouding met God. Om te sê jy is vriende met God, maar jy doen niks vir Hom nie, sê eintlik dat die vriendskap tussen jou en God morsdood is.