Jakobus 4:2-8 DB

2 Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry.

3 Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie.

4 So draai julle die rug vir God en vry na die sonde. Besef julle nie dat om gedurig die verkeerde dinge te doen wat so eie aan ons as mense is, beteken om teen God te draai en sy vyand te word nie? Julle het ’n keuse. Julle kan kies om soos die mense te leef wat God nie ken nie, maar dan kies julle ook om God se vyand te word.

5 Dink julle miskien die Skrif is sommer vir spek en boontjies geskryf? Natuurlik nie. Luister dan na wat daar staan: God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal vir Homself hê.

6 God gee ook vir ons baie meer as wat ons nodig het om so te leef, sonder dat ons dit verdien.Ek verwys weer na wat die Skrif sê: “God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed - meer as wat hulle ooit verdien.”

7 Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan.

8 Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie.